Please be aware orders placed now may not arrive in time for Christmas, please check delivery times.
OMNIBUS 3 (Afrikaans Edition)
Al drie hierdie liefdesverhale is ook as afsonderlike publikasies op Amazon beskikbaar. VOLLERMAAN: Jannike vind geluk in haar verhouding met rykmanseun, Niel Hardy. Hy oortuig haar daarvan dat die geheim van hulle liefde vir mekaar, juis die kosbaarheid van hulle verhouding onderstreep – dat niemand dit kan aanraak nie en dat dit net aan hulle twee behoort. Maar die verhouding verloop anders as wat Jannike gedroom het en sy word gekonfronteer met die verskil tussen realiteit en droom. Dis egter nie net haar droom wat versplinter nie, maar ook die verhouding met haar ouers. Alleen en gestroop, bly sy agter met die vrug van ʼn verbode liefde. Albert Reitman leer haar dat die fases van die maan, donkermaan en nuwemaan, wel kan lei tot ʼn vollermaan en dat hoop en vervulling tog in die toekoms kan wag. In hierdie sensitiewe verhaal, ontgin Maria M Bekker die tema van hoop en onselfsugtige liefde wat selfs in die moeilikste omstandighede sin aan menselewens gee. TOT ONS WEER ONTMOET: Wanneer die byl in die stam byt en die spaanders laat sing, wanneer brute krag getemper deur kundigheid baasskap oor die natuur bewys... dan is daar nie plek vir kommer of emosie nie. Daarom kan ʼn man na sy werk toe vlug wanneer skuld en selfverwyt, twyfel en wanhoop, te veel word. Die houtkappers-gemeenskap van ʼn paar dekades gelede is die omgewing waarin hierdie sterk verhaal afspeel. Die skryfster teken ʼn prent van felle emosie, van sterk manne wat hulle eie swakhede leer ken, van vroue wat dien en verduur maar ook op eie geluk aanspraak maak. Die hoofkarakters is Rian Waltman, aangevuur deur wraaklus en wat sy jong soepel krag moet meet teen Swart-Piet Vercuil. Maar daar is ook die skone Alta en Rian begin leer dat liefde en haat nie langs mekaar kan bestaan nie. TOT ONS WEER ONTMOET vertel die verhaal van die herontmoeting tussen twee mans wat deur sterk bande verbind word en bestem is om mekaar te vind of te vernietig. WAAROM VLUG JY? Deur wanhoop aangedryf, vlug Magda Serfontein van haar geboortestad af weg. Sy soek onvlugting op ʼn afgeleë Bosboustasie, waar sy ʼn betrekking as verpleegster in ʼn klein hospitaaltjie aanvaar. In die afgeleë Bosboustasie, is Magda nie die enigste een wat ʼn geheim in haar omdra nie. Hier is uiteenlopende karakters wat deur die noodlot saamgebondel is. Waarom soek dokter Curt Smidt vergetelheid in die oormatige gebruik van drank? Waarom is Pieter du Toit, die man wat sulke strelende akkoorde uit die klavier kan tower, so morbied in homself gekeer? En die aantreklike, forsgeboude Chris Buitendag wat kortaf en nors dwarsdeur Magda kyk sonder om haar selfs raak te sien. Waarom sou hulle daar op die afgeleë Bosboustasie kom asiel soek? Vlug elke mens dan maar van iets af weg? En vir hoe lank?